Tuesday, 11 October 2011

Nuwe Weivelde

Okay, so jy weet dat hierdie blog eintlik net vir my Afrika trips bedoel is, nè?

As jy my nuwe, algemene blog wil lees, gaan check Die Weerlig uit.

http://dieweerlig.blogspot.com/

Schweet.

Wednesday, 10 August 2011

The Seaside

Ek't lus om seetoe te gaan op 'n Wintersmiddag.
Hoekom sal enigeiemand dit NIE wil doen nie? Dis 'n fantastiese gesig, die branders, seevoëls en koue seelug saam. Nog beter as jy The Drums se "Let's Go Surfing" oor 'n goedkoop karradio in die agtergrond hoor speel. Ongelukkig kry ek nie meer baie die kans om sommer net strand se kant toe te ry nie. Alles moet beplan word en vooruit uitgewerk word, wat die hele punt daarvan teenstry.

Jy weet wat ek bedoel. Dis nie meer 'n spontane uitbarsting van cool nie. Dis nou 'n maatskappy-spanbou-piekniek. Sies. Om elke dag so in 'n reghoek te moet beweeg is nie die heel beste ding wat jy met jou tyd kan doen nie. Miskien is hierdie nou my terugbetaling vir die dinge wat ek in Malawi geskryf het. Oor ander mense se vergaderings en filosofie-opstelle.

So is dit nou maar.Ek sien hoe ander mense ook daardeur afgetrek word. Kan jy onthou wanneer jy laas iets nuuts op Spoegwolf gelees het? Ek ook nie.

Hier in Kaapdorp is alles darem nie sleg nie: redelik naby aan my gebou is daar 'n plate-winkel en Fiction. Plus ek kan in die oggend in die Kompanjie's Tuine (?) rondloop. Die woord 'rondloop' kan ook gelees word as 'rondsit' of iets in daardie lyn.

More of so gaan ek vir my "Shot Of Love" op vinyl gan koop.

Ek wen.

Friday, 5 August 2011

Blou Woensdag

Soos jy seker weet, is dit koud. Ek kan eintlik daar stop, omdat daar nie veel anders is om te sê nie. Halfpad met die week, maar die moelikste deel lê nog voor. Ewe skielik wens ek om terug te wees in die land waar die mense nie weet hulle is ‘n uur voor nie en waar ek elke dag moet check vir muskietbyte.

Maar ook nie regtig nie.

Vandag sit ek lekker in ‘n koue garage/ontpanningsarea en bibber. Die agtergrondmusiek is hier darem beter as in Nkhoma. Ook maar net-net.Ten minste hoef ek nie weer vandag ‘n kattekoor weergawe van Bon Jovi se “You Give Love A Bad Name” te hoor nie. Nou is dit iets anders.

My trein ervaring is egter beter. Daar is nou mense om mee te praat en nie net die “Net nog ‘n hoërskool” cliques nie. Dit het al so erg begin raak dat ek presies weet wie vir wie kwaad is, wie nooit regtig lief was vir wie nie ens. Die trein is ‘n snaakse plek as jy die lig dit reg vang.

Jy sal agterkom dat my inskrywings korter is en minder een-lyn stellings bevat. Ek weet ook nie regtig hoekom nie, maar ek bevraagteken dit nie. Partykeer is dit nie die moeite werd nie. As jy “Friday Is Braai Day” gelees het, sal jy verstaan wat ek bedoel as ek sê dat ek nogsteeds daardie kaggelvuur-mis in my kop het. Eintlik het ek dit nou in my hele lyf. Dis wat dit is.

Kyk my in die oë en vertel my dat ek nie gelukkig is nie, dan kyk ek jou in die oë en vertel jou dat jy ‘n poephol is. Ek sukkel net ‘n bietjie om te glo wat om my aangaan.

Twyfel is soos duwweltjies
Wat vegkruip in die groen gras.
Is wat ek sien for real
Of gaan die reënwater dit wegwas?

Cool.

Tuesday, 26 July 2011

TV Land

Dit is 'n koue oggend op die trein Kaapstad toe.
Waar ek gewoontlik met duisende onidentifiseerbare gedagtegange sonder skakels sou gesit het, is daar nou net twee groot, onmiskenbare Gedagtes (met 'n hoofletter) wat my liggaam sukkel om te ondersteun.

Dis hoe koud dit is.

Vandag is dit al Dag 10 vir my. Ek ry elke oggend met die trein in om hier verder te kom koud kry. Sewe-uur opstaan het al lankal vir my laatslaap geword.

Maar dis die moeite werd. Kaapstad vroeg op 'n Wintersoggend is een van die mooiste dinge in die wêreld. So mooi dat ek gister 'n trein terug Paarltoe moes vat omdat ek in 'n boom vasgeloop en my tand gebreek het. Soos ek met 'n mond vol splinters aanstap vergelyk ek my stad met die ander hawe-stede in my geheue. Ons wen. Dis al wat ek vandag daaroor gaan sê.

Tussen meisies, musiek, metacomedy en moerse boomtakke deur stap ek 'n lang pad met gevriesde voete. Ten minste kan ek slaap op die trein.

Hou die blink kant bo.

Thursday, 16 June 2011

Johnny, Speel Vir Ons Tunes

Musiek is mooi.

Musiek maak my gelukkig. Musiek maak jou gelukkig. Musiek maak ons gelukkig.

Ek sit nou en laai ‘n redelik groot aantal albums op my iTunes. Onder meer AfroCubism, Eels, Faithless en Arcade Fire. Dit maak my baie gelukkig. Toe ek hierdie inskrywing begin het, het ek gedink dit gaan ‘n bietjie soos ‘n MK advertensie klink. Daai ads waar Fritz Bucker of Inge Beckman of iemand ‘n voice-over doen met sinsnedes soos “Musiek is ‘n chroniese verslawing...” en so aan. As ek nou my paragraaf lees is ek bly om te sê dat dit amper glad nie so klink nie.

Nie dat ek ‘n probleem het met die Ef-El sanger se voice-over nie. Of met MK se advertensies nie.

So van bands en televisie gepraat; vroër vandag het ek twee hoë kwaliteit videos van Ysterkoei se opvoering in Pretoria (12 Feb) op die Facebook-blad gelaai. Dit maak my nog méér gelukkig, omdat dit die einde van die begin van die band merk. Ons het nou genoeg geleer om ons boot uit die hawe uit te vat en die oop waters van die musiekwêreld aan te durf.

Of so iets.

Nog ‘n paar van die dinge wat my gelukkig maak is viskoekies, knoffel op pizza en chocolate chip youghurt. Maar dis vir ‘n ander dag se inskrywing.

Dit is lekker om terug te wees en dit sal seker nog vir lank lekker bly. Nou moet ek net ‘n bietjie harder werk om inhoud vir my inskrywings te kry. Soos wat jy seker al agter gekom het.

My kies staan soos ‘n sokkerbal en ek drink pynpille by die vuisvol. Ek het ‘n paar dae gelede my een verstand tand laat uithaal, oftewel uitkap met ‘n hamer en beitel. Hoekom, dink jy, word dit ‘n ‘verstand tand’ genoem? Dit is iets wat ek nie verstaan nie.

Dit maak my ongelukkig.

Monday, 6 June 2011

Friday Is Braai Day

‘n Doodgewone aand.

Ek sit nou op die geel blomme-bank, ses minute oor twaalf, met Kwêla aan in die agtergrond en ‘n kaggelvuur-mis in my kop. Die meisie op die TV se naam is ‘Kika’.

No jokes.

Ek sukkel so ‘n klein bietjie om te konsentreer. Miskien is dit te doen met die hele “Reverse Culture Shock” ding waaroor daai Scotse bra aangegaan het. Miskien is dit omdat Moskou my vanoggend dou voor dag wakkergebel en toe wakker ge-koffie drink het. Die sekondêre aanbieder is heeltemal te entoesiasties. Op Kwêla, nou.

‘n Mens kan ook nêrens heen gaan sonder dat alles uitmekaar uit begin val nie.

Hier is ‘n prettige feit wat jy dalk nie geweet het nie: Coenie de Villies luister Rammstein in sy kar. Hy het dit self vir my gesê die aand voordat ek landuit is. Sit ‘n Rammstein CD aan en kyk Kwêla sonder klank. Dis intense.

My vorige een-lyn stelling geld ook vir die wêreld. Kyk net wat het met Japan gebeur.

Vandat ek terug is beweeg tyd skielik baie vinniger. En ek kyk baie Top Gear. Die Winter is mos maar daai tyd van die jaar. Ek dink ek gaan nou iets beters metmy tyd gaan doen.

Bly lewendig. It’s a jungle in here.

Wednesday, 27 April 2011

Twee Weke Oor

Hier staan ons nou op die drumpel van my laaste fortnight in Malawi. This calls for something or other, I’m sure. Miskien kan ek ‘n braai hou of iets in daardie lyn...

Dis n’Maandag oggend met daai Sondagmiddag-gevoel, ek sit in die son met ‘n koekie en ‘n sak peanuts en die lewe is lekker. Wat doen jy vandag, hmm? Het jy ‘n vergadering? Miskien het jy ‘n opstel om te skryf vir jou filosofie klas oor of ‘n stoel werklik ‘n stoel is as niemand dit in die woud hoor val het nie en hoe dit terugkom na geloof toe. Ek sit lekker en skryf allerande bullshit in my hoekie met ‘n baie slegte reggae band wat oefen om die draai.

Jy moet betaal om crappy bands te sien en ek kry ‘n free buitelig jam heeldaglank waarvoor ek nie eens hoef op te staan nie. Behalwe vir al hierdie wonderlike dinge moet ek bieg, ek wil huistoe kom. Almal dink hulle is dominees hier (die sanger het nou net begin preek [“Halleluja? Ahp Ahp Jeesas! Dawoen dawoen Sahtahni! Halleluja?”] en dis regtig iets wat jy elke dag sien.) Ek mis die goeie ou one hour specials.

Ek wens ek het meer gehad om te sê, maar hier gebeur nie regtig veel nie. Dis paasfees, so die hele plek is dood. Ek voel asof ek tyd gestop het, behalwe vir die sub-par reggae. Drie maande van solid Sondae.

Wow, hierdie ouens ken net drie akkoorde. G D C al die pad, lyk dit my. Steeds is dit beter as niks. Hierdie Maandag is eerder golden-brown as wat dit blou is.

Ek wou eintlik maar net inloer om ‘hallo’ te sê, so ek gorrel nou so ‘n bietjie. Kyk mense nog Prison Break of Gray’s Anatomy? Ek is bietjie agter, so my smalltalk ly. Dit wil blyk dat hier ‘n volledge fees aan die gang is met die musiek goed. Miskien is dit ‘n spesiale paasfees diens. Klink vir my reg.

Die kragonderbrekings gaan voort en ek dink ek is besig om night vision te ontwikkel. Plus, iemand het my groot sak meel gesteel.

Ek dink ek moet nou iets anders kry om te doen, want dit voel of ek hardop met myself praat. Geniet jou paasfees en alles. Safe home.

Sunday, 24 April 2011

Backyard Jungle Jam

Vandag was ‘n goeie dag.
Ek het saam met twee ouens in ‘n vyf by sewe meter stuk modder agter ‘n “skoolkoshuis” (backsteen en modder saal met gate vir vensters) met ‘n oop stuk waterpyp wat lek gesit en jam op ‘n goedkoop cassio keyboard, ‘n PA wat uit stukke van verskillende ou hi-fi’s aanmekaar getape is en my Fender akoestiese kitaar.

Dit was okay. Ek het ook gisteraand iets bygewoon wat ‘n Woensdag tradisie gaan word op die Nkhoma-witmense circuit: aandete by Jessi se huis. Almal was ‘n bietjie ooropgewonde en vier verskillende mense het elkeen besluit om iets by te dra. Dit is scary hoe eenders ons idees hierbo is. Dit was definitief die laaste cake party vir ‘n paar dae. Volgende keer sal ek maar net deluxe hot chocolate saamvat.

Ek kyk nou Raiders of the Lost Ark en ek het vanaand my eie pizza met al die odds and ends wat oor was van my kosvoorraad gemaak. Livin’large.

In die tyd wat dit my gevat het om hierdie stuk te skryf was daar vier kragonderbrekings. Hou asseblief op kla en laat vaar jou delusion dat Suid-Afrika enigsins in ‘n slegte toestand is. Suid-Afrika skop Malawi se gat. En eeste ander Afrika lande s’n ook. Maak dit ALLE ander Afrika lande. Ek moet vanaand my kos op kerse probeer gaarmaak, want daar is nie elektrisiteit of braaihout in die dorp nie (ons mag nie bome se takke vat nie, want ons sal hel toe gestuur word daarvoor). Dit gaan ‘n moeilike taak wees, want hier is nie genoeg kerse vir ‘n week sonder krag nie.

Die lantern het nou ook gees gegee.

Tweede jamsession agter die plakkerskoshuis: Onsuksesvol. Dit was lekker toe dit ‘n spontane ding was en hierdie keer het die keyboardspeler die hele ding probeer organiseer en dit was net nie glad nie. Môre begin die dorpie toer afsluit en ek moet agterop ‘n fiets na die volgende dorp toe gelift word met my kitaar en my goed in ‘n bondel. Dit behoort matig tot baie onaangenaam te wees. Dan is dit vier tot ses ure van agressiewe gepreek in ‘n taal wat ek nie verstaan nie, in ‘n gebou wat basies ‘n konvekse gat in die grond is. En dan weer terug.

Pinch me, I must be dreaming.

Ek kan nou genuinely nie onthou hoe my vriende se stemme klink nie en ek voel of ek op die rand van ‘n krans staan met my liggaam wat stadigaan lam word.

Ek raak nou lus vir koek. Dit is te jammer dat die kers nie sestien ure gaan hou nie, en ek dus nie een kan probeer bak daarop nie. Ja, daar is net een kers oor. Dis soos ‘n horror movie, net meer horrible. Soos wat ons hoofseun (wie se werk dit was om toesprake te lewer) eens gesê het: Horribalisties. Ek en twee Nederlandse susters sit nou maar in die donker en wag vir die krag om weer aan te kom. My hopes ain’t high, though. Malawi is nie juis die geboorteplek van effektiwiteit nie.

Ek dink ek gaan nou gaan slaap. Sesuur op ‘n Saturdagmiddag in die pikdonker sonder kos. Dankie ‘His excellence President dr. Bingu’ vir al die wonderlike werk wat jy met jou land doen. Jy’s ‘n ster.

Wednesday, 20 April 2011

Kaaskoppe

Daar is nou ‘n klop Hollandse hippies hier in die eetkamer van wat voorheen die gastehuis was. Nou is dit ‘n verwronge Europese wasteland met Coldplay kitaarspeler-caps, uggboot/afgeskeurde jean combos en algemene minagting vir ouer mense. Dat is uncool. Hulle is soos Amerikaanse tieners.

Ek speel aspris my enigste blues musiek om hulle te pla. Hulle is mos techno-mense. Die koek-ding het nou ‘n full-on verslawing geword. Daar word nou meer as twee keer op ‘n dag koek gebak. As we speak is daar ‘n koek in die oond en daar word nog beplan. What a way to do it.

CAKE PARTY!

Terwyl ek jou aandag het wil ek net uitwys dat ek 19 dae oor het. They catch you coming and going; Toe ek gekom het wou ek net terugkom huistoe en ek was moedeloos vir ‘n groot gedeelte van drie maande. Noudat ek terug gaan kom, begin Nkhoma op my groei.

Ek raak nie sag of enigeiets nie, maar ek begin myself geniet, en nou moet ek weer deur die hele trek gaan, so dit voel asof ek virniet gewoond geraak het aan alles hier. Ek het ook nounet uitgevind dat ek wel normale long-life melk in Nkhoma kan koop. Nege weke te laat. Jy is nogal stil met die comments. Ek het ‘n bietjie meer deelname verwag, maar jy kan ‘n perd net tot by die water bring...

Vandag was ‘n goeie dag, oor die algemeen. Ek gaan nou vir jou vra hoe jou dag was, al weet ek jy gaan nie ‘n antwoord gee nie, omdat ek toegewyd is en ek nie so maklik opgee soos jy nie.

Dit is nou tyd vir ‘n shoutout.

At the time of posting is dit Chris se verjaarsdag! Veels geluk, buddy. A very special day for a very special boy! Ek hoop jy lees hierdie en voel skuldig dat jy nie my facebook boodskappe lees nie. Mag jy negentienwees melk vir alles wat dit het. En dankie dat jy hierdie paragraaf moontlik gemaak het.

Jy wat nie verjaar nie moet ook nie uitgelos voel nie. Jy mag jou dag ook geniet, as jy regtig wil.

Die Kaaskoppe is nou klaar geraas en die koek is nog nie klaar nie. Ek dink daar’s ‘n gat in die oond.  Ons gaan kaarte speel. Ons lewe op die rand. Maar dis nie alles speletjies hier nie, o nee. Ons moet skottelgoed was een ons eie kos maak as ons in hierdie gastehuis wil bly. Ek sê jou, dis soos die army.

Cool.

Tuesday, 19 April 2011

Die Berg Is Erg

Ek het nounet terug gekom van die Nkhoma berg af. Dit was baie warm daarbo. Ek het gedink ek sou meer daaroor kon sê, maar dis ‘n berg. Plain and simple. Iets waaroor ek wel ‘n woord of twee kan tik is die phenomeen wat deur die gastehuise van Nkhoma hardloop:

Cake party.

Elke dag is koek-dag hier in die land van min skoon water. Wat basies gebeur het is dat almal stelselmatig baie verveeld geraak het. Die volgende logiese stap was om iets te eet. Almal hou van koek, almal het baie tyd en ons het klaar die meel, so die gastehuis-gebakte koek rewolusie het begin. Nog iets wat natuurlik kom as jy verveeld raak is om ander mense te soek om saam mee verveeld te wees.

“What on earth will we do with all this cake?”

Cake party.

Vandag was my beurt om die koek te bak. Dit was ‘n koffie koek, of eerder ‘n koffie tert, aangesien ek nie die beste bakker ter wêreld is nie en ek nie regtig ‘n resep gehad het om vanaf te werk nie. Dit was baie lekker, though. Ek wonder of daar nog oor is..?

As ek oor 20 dae terugkom in Paarl Rock City gaan daar iets magies en wonderbaarlik op die wind na agterplase reg oor die land sweef.

Cake party.

In ander nuus is daar sprake van ‘n koekie-aand in die sprawling metropolis of Nkhoma Synode gastehuise. Ek weet nie of dit gaan vat nie. Wie hou koekie aande? Dis vir sissies.

Ek moet gaan, ek het ‘n koek in die oond.

Dis vir ‘n Cake Party.

Sunday, 17 April 2011

Senga Bay, Hay Hay Hay

Ek sit in afwagting van my uitstappie na Salima/Senga Bay vir die groot skole-saamtrek ding. Rondom my voel dit soos ‘n naweek moet en dit reën buite die venster van die sitkamer/eetkamer tafel waar ek sit en skryf. Daarbuite is ‘n hoop bakstene, but that’s neither here nor there.

Wie weet? Miskien gaan hierdie een van die groot ervarings van my Malawi trip wees.

Pause. Unpause.

Die wêreld se most committed bass speler. In die wêreld. Ooit.

Dinge hier is mos gewoontlik ‘n bietjie home-made, soos byvoorbeeld die kraglyn vir die saamtrek-band se toerusting. Om ‘n lang storie medium-lengte te maak, was daar nie ‘n earth kabel vir die bass amp nie, so daar het ‘n elektriese stroom deur die snare gehardloop, wat beteken dat elke keer wat jy ‘n noot probeer speel is dit soos om jou vingers in ‘n muurprop te druk. Soos wat jy die volume opdraai raak die stroom sterker. Hierdie was ‘n buitelig gig langs die meer en die reggae vibes het heel aand lank gespeel.

Ek het op die moelike manier uitgevind.

Behalwe daarvoor was dit ‘n baie lekker aand, met live reggae, wind op die meer se strand en so aan...

Ek het my donkiewerk uitgesorteer, so dinge loop nou baie smooth hier by hoofkantoor. Miskien sal ek môre ‘n ‘company outing’ by die berg op vat. Ek reken dis ‘n goeie idee, en jy? O, so? Wel, wat weet jy in elk geval?

Ek kan nie nou nog praat nie, ek kyk ‘n fliek.

Monday, 11 April 2011

Donkiewerk

‘n Donkie is ‘n wonderlike ding. Veral as dit nie jy is nie. Ek kan ongelukkig nie sê dat ek enige on-donkie-agtige kenmerke het op hierdie tydstip nie. Ek sit al vir ure op ure met die taak om ‘n “Studie gids” oor te tik, maar ek beweeg teen ‘n slakkepas. Dit kan dalk wees omdat ek met my twee middelvingers tik soos ‘n aap-mens, of omdat die LO/sondagskool “studiegids” geskryf is deur iemand wat dit direk uit Chichewa sonder ‘n woordeboek vertaal het. Miskien is dit nie een van hierdie redes nie, maar al wat ek weet, is dat dit my fisiese pyn gee.

Ek het al probeer om foto’s van die bladsye te neem, maar dit het nie gewerk nie. Nou gaan ek maar die scaley ding doen en dit alles oortrek van die internet af.
Dis nie asof enigeiemand gaan geld maak hieruit nie en dit was al klaar plagiaat, so ek voel eintlik okay daarmee. Terwyl ek daar is gaan ek sommer nog met jou praat op hierdie blog. Ten minste het dit my blogger’s block gebreek. En my menswees, maar dit sal hopelik teruggroei.

Twee van die nuwe Britse bra’s is nou weer weg. Dit beteken dat daar niemand in die gastehuis is wat minder as vyf jaar ouer as ek is nie. Die oorblywende souties deel ten minste my musieksmaak en een van hulle het ‘n goeie kennis van Suid-Afrika, Afrikaans en die boland (haar man is ‘n Suid-Afrikaner van Stellenbosch), so dis lekker. Die probleem met die krag is weer uitgesorteer, so ek kan weer kook en die sitkamer het weer ‘n musiekstelsel (my klein kitaar-amp). Dinge lyk goed.

Dit is verbasend hoe lekker ek skryf as ek Ef-El luister. Ek wil graag op hulle ‘n beroep doen om weer bymekaar te kom, al wil Hugo eerder ‘n solo sanger as ‘n drommer wees. Suck it up en jam weer, ek het lock-in musiek nodig.

Ek gaan vanmiddag drie-uur Salima toe om ‘n groot saamtrek of iets by te woon as deel van my navorsing vir die blog en ek wil niks weggee nie, maar ek dink jy gaan dit geniet om te lees hoe ek dit gaan interpreteer. Ek proe al daai petrol soft serve.

Ek moet terugkom by my sielsdodende donkiewerk en jy het iewers om te wees, so ek gaan nou begin afsluit. Onthou asseblief dat ek jou insette geniet en soms nodig het, so los comments en help my uit. Ek het onderwerpe nodig want ek kan nie elke keer skryf oor hoe ek skryf of nie skryf nie. Dit raak deurmekaar en ek kan nie by hou nie.

Laastens: van almal hier by Marmite Vir Die Siel wil ek jou gelukwens met jou verjaarsdag, wanneer dit ookal mag wees. Nog baie jare. Hou vir my ‘n stuk koek oor, okay?

Friday, 8 April 2011

Monkey At A Typewriter

Ek is bevrees dat ek my Malawi ervaring uitgeput het as ‘n bron vir hierdie blog. Dit beteken groot probleme, omdat ek nie enige ander bronne het nie. Miskien moet ek begin om ander goed te doen sodat ek iets kan hê om oor te skryf. Ek dink ek sal die berg gaan klim.

Die leerders van die Malawise hoërskole staan aan die begin van hul skoolvakansie, so miskien gebeur daar iets op daai front. All in all is dit redelik droog in terme van snaakse stoies en/of interessante gebeurtenisse. Dit lyk selfs asof die plaaslike koerant The Nation begin het om nuus te publiseer. Almal het hul mes in vir my blog.

Ek sal my bes probeer om iets te kry, maar moenie jou asem ophou nie, dit kan ‘n tydjie vat. Hierdie stuk het my ‘n halfuur gevat.

On the plus side het ek drie en dertig dae oor voordat ek weer met ons gaan wees, so ek is vinnig oppad. Kry solank jou skoene reg en haal die chops uit die vrieskas uit. Ek wonder of dit anders gaan wees as voor ek weg is... dit mag dalk.

Ek wag nog vir jou om aan ‘n projek te dink. Miskien kan jy ‘n bietjie moeite doen, okay? Ek voel asof ek alleen hierdie ding aan die gang hou.

Terwyl jy dink gaan ek navorsing doen vir my volgende inskrywing. Daar moet iets wees om te doen in Nkhoma wat ek nog nie ontdek het nie. Miskien is hier ‘n underground nightclub of ‘n shebeen of iets wat ek kan besoek. Worst case scenario sal ek self iets moet skep, soos ‘n groot kuier op die sokkerveld of  iets in daardie lyn. Dit klink eintlik na ‘n goeie idee; daar’s baie nuwe mediese studente en jong buitelanders wat graag so iets sal wil doen. Dit kan my bydrae tot die sending wees. ‘n Groot party op die veld.

Ek is nou “locked in” by my rekenaar sodat ek deur my writer’s block kan werk. Hier doens ons dinge reg. ‘n Goeie stimulant is om Ef-El se ‘Net om die Geraas in te Asem’ album te luister terwyl jy tik. Dit en Jack Parow, vir een of ander rede...

Een nadeel, of  side effect (ek is in ‘n hospitaal) is dat dit my homesickness aanvuur. Ek maak opofferings vir my leser. Ek hoop jy waardeer dit.

En siedaar! Een bloginskrywing sonder uie.

Sien jou later.

Thursday, 7 April 2011

Half n' Half

Gisteraand het die helfte van die gastehuis se krag afgegaan. Die belangrike helfte, met die kombuis en sitkamer en als. Wat dit nog beter maak is dat al my kosvoorraad gevries is, so ek kan nie kos maak nie. Ek is honger.

Ek het ook ‘n paar dae terug ‘n interessante ondervinding gehad. Malawi taxi trip. In Suid-Afrika sal die meeste minibus bestuurders ophou om mense op te laai sodra daar ses of sewe mense te veel is. Nie hier nie. Soos wat ek en my twee mede reisigers langs die pad afstap, sien ons ‘n kombi in die verte aankom. Binne-in die sixteen seater was daar ten minste dertig mense. Daar het twee ouens op die dak gesit. No jokes. Hierdie sokkerwedstryd op wiele het gestop en ons drie, bagasie en al, opgelaai.

Africa is just great.

Kan jy vir my ‘n rugby wedstryd en die nuus tape en dit oorstuur? Miskien ‘n bietjie MK, selfs. Ek voel asof ek onvoorbereid gaan wees vir my release back into my natural habitat. Ek gaan rehabilitasie nodig hê om weer aan te pas.

Al hierdie ‘In Blog we trust’ youth revolution, generic ‘Movement’ goed begin my pla, en ek dink dit sal baie ironies en meta wees om daaroor te blog. Miskien op ‘n later stadium. Vir nou gaan ek eers bly by my ervaringe van die Malawi lewe. Ek sal genoeg tyd hê vir meta-blogging* en humoristiese opstelle oor niks as ek terugkom. Oor 34/33 dae.

As dit klink asof ek opgewonde is oor terugkom, is dit omdat ek BAIE opgewonde is. Moenie begin met “Jy moet dit embrace” en al daai goed nie. Drie maande alleen in ‘n afgesonderde plek sonder te veel kontak met die buitewêreld is meer as wat jy kan hanteer, so moenie maak asof ek swak is nie. Ek is opgewonde, en ek sal opgewonde bly.

Dis nie dat ek nie van Nkhoma of Malawi hou nie; ek dink regtig dis great, maar ek kan nie onthou hoe my lewe in die Paarl was nie en ek het my familie en vriende sewe weke laas gesien. Ek verdien dit om opgewonde te wees.

Jammer dat ek nou op jou geskree het. Ek het opgewerk geraak.

* Blogging about blogging.

Wednesday, 6 April 2011

Let Op Die Alliterasie

Okay, so miskien skryf ek nie elke dag nie, maar jy moet verstaan dat ek nie al my tyd in die IT-kamer spandeer nie. Ek het beter en belangrikker dinge om te doen.

Okay, so miskien het ek nie regtig beter en belangrikker dinge om te doen nie, maar ek is lui en ek moet stap tot hier. Nou staan ons op 36 of 35 dae oor, afhangend van wanneer jy hierdie lees en wanneer ek dit oplaai. Dink bietjie daaraan. Ek begin al opgewonde raak oor Winter in die Paarl.

In ander nuus het ek beslis die beste breakfast bun (yeah) in die hele wye wêreld vanoggend gemaak. Nee, ek gaan nie my resep deel nie, maak jou eie een op. Dinge in die gastehuis het ‘n bietjie vreemd geword vandat die Britte ingetrek het, maar hulle het ‘n koerant saamgebring wat nie deur skoolkinders uitgegee word nie, so ek vergewe hulle.

My foto projek gaan nie werk nie. Dis te veel moeite en ek het kan nie soveel fotos oplaai nie. Jy kan ‘n comment skryf as jy ‘n beter idee vir ‘n projek het.

Dit verbaas my om te hoor dat iemand hierdie blog actually lees. Jy het baie vrye tyd en jy gebruik dit verkeerd. Skryf jou eie blog, as jy so lief vir blogs is. As jy dit nogsteeds as ‘n goeie idee sien om blogs te sit en lees terwyl kosbare tyd verbygaan, kan jy ook die blogs “Spoegwolf”, “Terminal Madness”, “Klippe Kou” en “Wolketrapper” gaan uitcheck. Good stuff, volgens my.

Verder wil ek net weer sê: Beslis die Beste Breakfast Bun.

Thank you, and good night.

Monday, 4 April 2011

In Die Land Van Die Blindes

Hier in Malawi is elke tweede ou wat jy sien met ‘n baadjie aan ‘n dominee. Dit skep ‘n interessante situasie, omdat daar ‘n oormaat predikers is. Ek dink aan ‘n planeet waar almal men of the cloth is.

Op die planeet Habakuk is daar nie mense nie. Daar leef ‘n vreemde ras op die oewers van die groot riviere. Alle lewende wesens op Habakuk is identies. Hulle kan vergelyk word met wat ons op Aarde ‘n ‘dominee’ sou noem.

Ons held, Pieter, loop in die straat af. Oral om hom hoor hy die gedreun van ‘n duisend preke. Die lug is swaar van die Boodskap.

Verbeel jou jy lees ‘n boek daaroor...

Anyway, Ek is besig met ‘n persoonlike projek: The Life In A Day. Ek gaan kyk of ek een hele dag in fotografie kan dokumenteer. Ek sal dit natuurlik nie hier kan oplaai voordat ek terug is nie, so jy sal maar ‘n tydjie moet wag vir dié een.

Dit is miskien ‘n baie groot cliché, maar dis tye soos dié wat jy leer om klein goed te waardeur. Ek raak weer opgewonde oor ‘n pakkie 2-minute noodles en ‘n glas aanmaak koeldrank. Dit is ook nou naweek, wat in my vorige lewe belangrik was. Nou maak dit nie regtig saak watter weeksdag dit is nie.

Jy stres nog oor allerande ‘issues’ en probleme en corporate-tipe dinge, terwyl ek wonder hoekom dit klink asof dit reën, maar dit nie buite nat is nie.

Hierdie ‘Stream-of-consciousness’ skryfstyl van my is moelik om te onderhou, omdat my aandag so maklik afgetrek word en my gedagtegang dus moelik is om te volg. Ek kan byvoorbeeld nie nou skryf oor treine nie. Ek dink glad nie nou aan treine of Piet Botha nie.

In die woorde van Valiant Swart (hoe het ek daar uitgekom?):

Soms as ek in ‘n vreemde stad is
Gaan staan ek op die hoogste gebou
Dan laat ek die liggies
My wegvat met die lang pad
En dan vergeet ek so ‘n bietjie van jou.

En nou, soos Piet Botha sê:

Sien jou weer.

Friday, 1 April 2011

40 Dae

Hallo julle!
En hoe gaan dit met jóú ma-hulle? Okay, cool, luister:  Hier begin ons met my 40 day countdown. Ek gaan probeer om elke dag iets te skryf en jy gaan probeer om nie dood te gaan van ‘n oordosis Marmite Vir Die Siel nie. Is dit reg so? Mooi, man.

Kom ons begin met ‘n bietjie wêreld nuus. Onlangs was daar mos Earth Hour, né? Hier in Nkhoma is daar elke week ‘n Earth Hour of twee. Partykeer is dit sommer ‘n Earth Day. I’m here ‘till Wednesday, tip your waitress.

Ek het Sondag wat verby is ‘n interessante uitstappie gehad, maar dis ‘n storie vir later.

Vandag het ek kos gaan koop in Lilongwe. Het jy geweet dat iemand regtig met ‘n straight face ‘n hoërskool “Double Vision Boys Private” genoem het? Net so, sonder die apostrophe. Wel, dit is langs ‘n bar…

Hier in Donker Afrika™ het mense mos ‘n unieke manier van dink as dit by name kom (Who Told You? Investments, hardware store). Mense hier is snaaks sonder opset. Daar was ‘n paar straatstalletjies met vreeslik aanstootlike name, ook. Een van hulle het die N-woord gebruik. Die ander een was N*gger Cellphone Repair.

Op die blink kant moet ek sê dat die eienaar dit nie lelik bedoel het nie. Hy het dit in ‘n Rap liedjie gehoor en aangeneem dit beteken ‘Dude’ of iets soortgelyks.

Enige mens wat nog steeds nie glo die lewe is iets om oor te lag nie hoef net Malawise radio te luister. Die aanbieder het probeer om ‘n vinnige, smooth recap van sy laaste punt te gee, en toe sê hy weer sy hele stuk oor, only in slightly different words. En die advertensies is net killer.

Carlsberg: Probably the Best Beer in the World.

Probably.

Not.

Okay, dis later. My interessante uitstappie was ‘n uur se loop tot in die volgende “dorp” in ‘n jean. Hier is die kultuur mos dat alle mans langbroeke moet dra. Die een ou het saam semi berg geklim in ‘n SUIT. ‘n Volle pak klere, want hy’s ‘n quote “Gentleman” en gentlemen dress neatly.

Net ‘n laaste gedagte: mense hier sny gras met pangas, kap hout met byle, maak alledaagse goed met super skerp reeksmoord wapens. Dit beteken dat almal swaar gewapen is, in ‘n land wat nog nooit van ‘n moordsyfer gehoor het nie.

Is daar iets in die water?

Monday, 14 March 2011

We Need To Talk

Voor ons begin wil ek om verskoing vra vir die vorige inskrywing. Ek het ‘n ligte sonsteek situasie aan die gang gehad toe ek dit geskryf het.

Malawi het nou my nuwe normaal geword. My drome is nogsteeds freaky en ek word nogsteeds deur vlermuise geteister, maar my kaste stuur nou darem goeie vibes uit, so dis ‘n klein oorwinning.

Elke aand is nou fliek-aand in die gastehuis. Dinge begin baie vinnig baie cool word

Net om ‘n bietjie insig te gee, die kollektiewe Malawise psige lyk so: Jy het natuurlik dadelik van die Japan-aardbewing gehoor? Dit het nog nie in die Malawi koerante verskyn nie. Op die dag toe die res van die wêreld geskok was deur wat in die nuus gestaan het, was die plaaslike hoofopskrif “IG [Inspector General] WON’T APOLOGISE” en die berig het gegaan oor een ou wat iets oor ‘n ander ou se vrou gesê het en nie wou jammer sê nie.

Ek het op Facebook uitgevind.

Een ding wat baie waar is, is dat Malawi nog nooit van geweld gehoor het nie.
As jy ‘n vuisgeveg in Salima kan begin gee ek jou ‘n duisend Kwacha ( R40 ). Almal hier is too chill to spill. Dit kan wees omdat hulle te veel petrol-roomys eet, maar wie weet.

Ek hoop dat ons nog vriende kan wees na die vorige inskrywing. Ek sal harder probeer in die toekoms.

Sunday, 13 March 2011

Kruispad

Ek sit in die groot binnehof van die Crossroads hotel in Lilongwe.

Om myself te te vermaak verbeel ek my dat ek nie hier is nie. In my sielsoog verander my omgewing.

Die swembad word ‘n magiese bergpoel met ‘n waterval soos ‘n oeroue kwekery-fontein. Die tuinslang verdwyn heeltemal.

In plaas van dokergroen ysterstoele met druif-en-blaar patrone op is daar toegegroeide boomstompe op die gras langs die water. Kinders wat skree word algemene bosgeluide.

Eerder as die swembadarea van ‘n hotel met ‘n naam soos ‘n rehabilitasisentrum sit ek nou in ‘n clearing in ‘n sprokieswoud met ‘n waterval en maroon Dunhill sambrele.
Die verbeelding kan net so ver strek.

Daar loop Miere rond. Met ‘n hoofletter ‘M’.
Hulle lyk soos normale garden variety swart miere, behalwe vir die feit dat hulle twee sentimeter lank is. Die rustiggheid van my verbeeldingswoud maak hulle baie opwindend.

Dit begin nou liggies reën.

Regtig.

Dis nie ‘n metafoor vir spreiers nie.

Terug by die weklikheid voel dit soos ‘n pool-party toe jy nege was.

Tuesday, 8 March 2011

Note To Self

Tussen al die visvingers en Oreo’s deur is hier ‘n belangrikke les om te leer. Jy moet altyd jou pad uit ken en op enige oomblik daardie pad kan vat.

Hier in tropiese Afrika is die mense altyd vriendelik. Partykeer te vriendelik.

As ek in die oggend my kasdeuroopmaak dan slaan dit my: hierdie is nie my kas nie. Hierdie is nie my kamer nie. Daardie is nie my muskietnet nie. My eerste maand is amper verby en ek voel nog nie tuis nie. Nou hoor ek nog dat ek uitmis op ‘n show saam met een van my gunsteling bands.

Ek het ‘n paar dae gelede roomys gekoop wat na petrol gesmaak het. Turns out dat daar ‘n bietjie petrol in was. Bly weg van Salima Ice Cream Den af as jy ooit in Malawi is.

My drome is nou volledige Horror-flieks oor my kamer se duister geskiedenis. Gisteraand was dit ‘n lang een waar die verf van die mure begin afdrip het.

Petrol is nie ‘n goeie trip nie.

Hierdie blog het die vorm van ‘n nie-chronologiese dagboek begin neem, maar dit pla my nie regtig nie en wie is jy om te kla?

Op ‘n hoë noot, daar is ander dinge aan’t gebeur wat ‘n smile op my gesig sit, al is ek honderde kilometers weg. En vanaand is Foreign Film aand in die huis, so ek bly vir eers nog okay.

Sien julle weer na ag weke. Lees maar verder tot dan.

Sunday, 6 March 2011

Rooi Sondag.

Okay, so Donald Duck dra nooit ‘n broek nie, maar as hy by die stort uitklim het hy altyd ‘n handdoek om sy middel…

Welkom by nog ‘n opwindende episode van Marmite Vir Die Siel. Hier is almal ewe bang vir die donker.

Ek dink ek het Malaria.

Vergewe my as my witty banter flou en deurmekaar raak soos wat die tyd aanstap; dit is moeilik om te konsentreer as jy siek is in ‘n tropiese oerwoud en daar is niks om jou sane te hou nie.

Jy sal dalk sukkel om te verstaan hoekom ek stadig besig is om mal te word, so laat my toe om te verduidelik:

Vat een borderline nutcase. Sit hom honderde kilometers weg van sy huis, familie en vriende af neer in ‘n klein dorpie op ‘n berg met swakker infrastruktuur as die deursnee Suid-Afrikaanse plakkerskamp. Gee hom ‘n week sonder kos, ‘n week van amper-wanvoeding en ‘n ligte dosis van een of ander onidentifiseerbare siekte.

Maak nou sy internetverbinding stadiger as dial-up en vra van hom om te blog.

Tussen-in moet hy nog probeer onthou hoe almal wat hy agtergelaat het lyk en klink, terwyl hy meer en meer sukkel om fiksie van werklikheid te skei.

Dit klink vir my na ‘n resep vir sukses.

Die vlermuise het nog nie weer verskyn nie, maar ek het begin vreemde drome kry en ek kry sinister vibes van my klerekas af. Gisteraand het ek gedroom dit haal asem.

Help.

Monday, 28 February 2011

Mondays Suck

Ek het al heel dag lank daardie gevoel dat ek laat is, maar ek het niks om voor laat te wees nie. Jy weet wat ek bedoel. Dis moelik om van ontslae te raak. In my agterkop voel ek die behoefte om betyds te wees vir iets wat nie gaan gebeur nie.

Ek wonder of Amazon boeke in Nhoma sal aflewer...

Ja, die vorige sin was sy eie paragraaf. So ver het ek tyd genoeg gehad om ‘n gediggie te skryf en ek het besluit dis tyd om dit te uit.

Alles wat goed is
Alles wat mooi is
Alles wat in helder kleure getooi is

Alles wat goed is
Alles wat reg is
Alles wat nou ewe-skielik weer weg is

Alles wat waar is
Alles wat eg is
Alles wat dalk net ‘n klein bietjie sleg is

Alles verdwyn
As die lig daarop skyn
En die wind daaroor waai
En die son dit verbruin

Welkom by ‘n blog vir die aandag afleibare.

Sunday, 27 February 2011

Twee Weke In

Haai almal in internet-land. Op die oomblik is my Marmite potjie ‘n bietjie leeg, so julle sal maar moet klaarkom met Peanut Butter vir die Siel.

Afrika is ‘n wonnerlike plek, afhangend van waar en saam met wie jy is. Om alleen in die trope rond te trippel is moelik, maar om ‘n road trip langs die kus af te vat is fantasties. Ek wil nie soos jou ma klink nie, maar dit is belangrik om die regte keuse te maak.

Hier in Malawi groet mense mekaar so: Mulibanji – dit beteken ‘Hallo, hoe is dit met jou?’ en dan antwoord ‘n mens so: Ndi ri bwino – ‘Ek is gelukkig/goed’.

Hierdie brokkie inligting is moontlik gemaak deur my gebrek aan konsentrasie. Dit is irrelevant.

Die Afrika-trope suig die energie baie vinnig by jou lyf uit. Dit is ook onmoontlik om nie siek te word nie. Jy sál iets optel. Pas op vir muskiete.

My kamer word in die aand deur vlermuise besoek en daar is voetmerke teen mymure en op my plafon. Ek dink daar is ‘n goeie kans dat iets baie freaky nog met my gaan gebeur. Wees bly jy’s veilig waarookal jy is.

Ti onana
(ons sien mekaar)

Friday, 25 February 2011

Marmite Vir Die Siel

Toebroodjie terapie. Almal wat lief is vir toast maak weet waarvan ek praat: dis daai gevoel van 'Alles maak sin' wat jy kry as jy 'n bottermes in jou hand het.

Baie mense het hul eie spesiale maniere as dit by 'sammiches' kom. Party mense how van Peanutbutter eerste, party mense how van stroop eerste. Sommige mense sny regoeke, ander sny driehoeke, maar een ding bly by almal: toebroodjiemaak is 'n persoonlike ding.

Mense vind miskien familiariteit in hul Redro-roetine, of miskien gee dit uiting aan die oeroue behoefte om te skep. Ek self beskou byvoorbeeld my Tuna Mayo Op Witbrood as iets wat my respek verdien. Dis meer as net kos; dis 'n belofte en 'n beter boodskap.

Die toebroodjie is op een slag beide eenvoudig en kompleks; selfs kompleks in sy eenvoudigheid. God wat met ons praat deur kos, en wat hy sê is "It's all good."

Toebroodjies laat die wêreld draai.