Monday, 14 March 2011

We Need To Talk

Voor ons begin wil ek om verskoing vra vir die vorige inskrywing. Ek het ‘n ligte sonsteek situasie aan die gang gehad toe ek dit geskryf het.

Malawi het nou my nuwe normaal geword. My drome is nogsteeds freaky en ek word nogsteeds deur vlermuise geteister, maar my kaste stuur nou darem goeie vibes uit, so dis ‘n klein oorwinning.

Elke aand is nou fliek-aand in die gastehuis. Dinge begin baie vinnig baie cool word

Net om ‘n bietjie insig te gee, die kollektiewe Malawise psige lyk so: Jy het natuurlik dadelik van die Japan-aardbewing gehoor? Dit het nog nie in die Malawi koerante verskyn nie. Op die dag toe die res van die wêreld geskok was deur wat in die nuus gestaan het, was die plaaslike hoofopskrif “IG [Inspector General] WON’T APOLOGISE” en die berig het gegaan oor een ou wat iets oor ‘n ander ou se vrou gesê het en nie wou jammer sê nie.

Ek het op Facebook uitgevind.

Een ding wat baie waar is, is dat Malawi nog nooit van geweld gehoor het nie.
As jy ‘n vuisgeveg in Salima kan begin gee ek jou ‘n duisend Kwacha ( R40 ). Almal hier is too chill to spill. Dit kan wees omdat hulle te veel petrol-roomys eet, maar wie weet.

Ek hoop dat ons nog vriende kan wees na die vorige inskrywing. Ek sal harder probeer in die toekoms.

Sunday, 13 March 2011

Kruispad

Ek sit in die groot binnehof van die Crossroads hotel in Lilongwe.

Om myself te te vermaak verbeel ek my dat ek nie hier is nie. In my sielsoog verander my omgewing.

Die swembad word ‘n magiese bergpoel met ‘n waterval soos ‘n oeroue kwekery-fontein. Die tuinslang verdwyn heeltemal.

In plaas van dokergroen ysterstoele met druif-en-blaar patrone op is daar toegegroeide boomstompe op die gras langs die water. Kinders wat skree word algemene bosgeluide.

Eerder as die swembadarea van ‘n hotel met ‘n naam soos ‘n rehabilitasisentrum sit ek nou in ‘n clearing in ‘n sprokieswoud met ‘n waterval en maroon Dunhill sambrele.
Die verbeelding kan net so ver strek.

Daar loop Miere rond. Met ‘n hoofletter ‘M’.
Hulle lyk soos normale garden variety swart miere, behalwe vir die feit dat hulle twee sentimeter lank is. Die rustiggheid van my verbeeldingswoud maak hulle baie opwindend.

Dit begin nou liggies reën.

Regtig.

Dis nie ‘n metafoor vir spreiers nie.

Terug by die weklikheid voel dit soos ‘n pool-party toe jy nege was.

Tuesday, 8 March 2011

Note To Self

Tussen al die visvingers en Oreo’s deur is hier ‘n belangrikke les om te leer. Jy moet altyd jou pad uit ken en op enige oomblik daardie pad kan vat.

Hier in tropiese Afrika is die mense altyd vriendelik. Partykeer te vriendelik.

As ek in die oggend my kasdeuroopmaak dan slaan dit my: hierdie is nie my kas nie. Hierdie is nie my kamer nie. Daardie is nie my muskietnet nie. My eerste maand is amper verby en ek voel nog nie tuis nie. Nou hoor ek nog dat ek uitmis op ‘n show saam met een van my gunsteling bands.

Ek het ‘n paar dae gelede roomys gekoop wat na petrol gesmaak het. Turns out dat daar ‘n bietjie petrol in was. Bly weg van Salima Ice Cream Den af as jy ooit in Malawi is.

My drome is nou volledige Horror-flieks oor my kamer se duister geskiedenis. Gisteraand was dit ‘n lang een waar die verf van die mure begin afdrip het.

Petrol is nie ‘n goeie trip nie.

Hierdie blog het die vorm van ‘n nie-chronologiese dagboek begin neem, maar dit pla my nie regtig nie en wie is jy om te kla?

Op ‘n hoë noot, daar is ander dinge aan’t gebeur wat ‘n smile op my gesig sit, al is ek honderde kilometers weg. En vanaand is Foreign Film aand in die huis, so ek bly vir eers nog okay.

Sien julle weer na ag weke. Lees maar verder tot dan.

Sunday, 6 March 2011

Rooi Sondag.

Okay, so Donald Duck dra nooit ‘n broek nie, maar as hy by die stort uitklim het hy altyd ‘n handdoek om sy middel…

Welkom by nog ‘n opwindende episode van Marmite Vir Die Siel. Hier is almal ewe bang vir die donker.

Ek dink ek het Malaria.

Vergewe my as my witty banter flou en deurmekaar raak soos wat die tyd aanstap; dit is moeilik om te konsentreer as jy siek is in ‘n tropiese oerwoud en daar is niks om jou sane te hou nie.

Jy sal dalk sukkel om te verstaan hoekom ek stadig besig is om mal te word, so laat my toe om te verduidelik:

Vat een borderline nutcase. Sit hom honderde kilometers weg van sy huis, familie en vriende af neer in ‘n klein dorpie op ‘n berg met swakker infrastruktuur as die deursnee Suid-Afrikaanse plakkerskamp. Gee hom ‘n week sonder kos, ‘n week van amper-wanvoeding en ‘n ligte dosis van een of ander onidentifiseerbare siekte.

Maak nou sy internetverbinding stadiger as dial-up en vra van hom om te blog.

Tussen-in moet hy nog probeer onthou hoe almal wat hy agtergelaat het lyk en klink, terwyl hy meer en meer sukkel om fiksie van werklikheid te skei.

Dit klink vir my na ‘n resep vir sukses.

Die vlermuise het nog nie weer verskyn nie, maar ek het begin vreemde drome kry en ek kry sinister vibes van my klerekas af. Gisteraand het ek gedroom dit haal asem.

Help.